Toetse en Moeilikhede (#3207)

Verdryf my leed deur U mildheid en U vrygewigheid, o God, my God, en verban my angs deur U soewereiniteit en U mag. U sien my, o my God, met my gesig na U toe ingestel op 'n tyd wanneer droefhede my op elke kant omring. Ek smeek U, o U Wat die Here van alle bestaan is, en alle sigbare en onsigbare dinge oorskadu, by U Naam waardeur U die harte en die siele van die mense onderwerp het, en by die golwe van die Oseaan van U goedertierenheid, en die luister van die Son van U mildheid, om my saam te tel met diegene wat hoegenaamd niks gehinder het om hulle aangesigte na U toe te rig nie, o U die Here van alle name en die Maker van die hemele!

U sien, o my Here, die dinge wat my in U dae oorgekom het. Ek smeek U, by Hom Wat die Daeraad van U name en die Oorsprong van U kenmerke is, om vir my te beskik wat my in staat sal stel om op te staan om U te dien en om U deugde te loof. U is, voorwaar, die Almagtige, die Mees Kragtige, Wat gewoond is om die gebede van alle mense te verhoor.

En, ten slotte smeek ek U by die lig van U gelaat om my sake te seën, en my skuld te delg, en my behoeftes te bevredig. U is Hy van Wie se krag en van Wie se heerskappy elke tong getuig het, en Wie se majesteit en Wie se oppermag elke verstandige hart erken het. Geen God is daar behalwe U nie, Wat hoor en gereed is om te antwoord.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Toetse en Moeilikhede (#3208)

Geprys en verheerlik word U, o my God! Ek smeek U by die sugtinge van U liefhebbers en by die trane deur diegene vergiet wat verlang om U te sien, om nie U tere genade van my in U Dag weg te hou nie, nòg my die melodieë te ontneem van die Duif wat U eenheid loof voor die lig wat van U aangesig skyn. Ek is die een wat in ellende is, o God! Aanskou my, ek hou vas aan U Naam, die Alles-Besittende. Ek is die een wat sekerlik sal vergaan; aanskou my ek kleef vas aan U Naam, die Onverganklike. Ek smeek U dus, by U Self, die Verhewene, die Allerhoogste, om my nie aan my self en aan die begeertes van 'n bedorwe neiging oor te gee nie. Hou U my hand met die hand van U krag, en verlos my uit die dieptes van my versinsels en ydele inbeeldings, en reinig my van alles wat vir U afstootlik is.

Laat my dan geheel en al na U keer, om my hele vertroue in U te plaas, om U as my Skuilplek te soek, en na U gelaat te vlug. U is, voorwaar, Hy Wat, deur die Sterkte van Sy mag, doen wat Hy ook al wens, en deur die vermoë van Sy wil, beveel wat Hy ook al verkies. Niemand kan die werking van U verordeninge weerstaan nie; niemand kan die koers van U bepaling afwend nie. U is, in der waarheid, die Almagtige, die Alglorieryke, die Mees Milddadige.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Toetse en Moeilikhede (#3209)

O U Wie se toetse 'n genesende medisyne is vir diegene wat naby U is, Wie se swaard die vurige begeerte is van almal wat U liefhet, Wie se pyl die dierbaarste wens is van daardie harte wat na U verlang, Wie se verordening die enigste hoop is van diegene wat U waarheid herken het! Ek smeek U, by U goddelike soetheid en by die luister van die heerlikheid van U gelaat, om uit U skuilplekke in die hoogte dit op ons te laat daal wat ons in staat sal stel om tot U te nader. Plaas dan, o my God, ons voete stewig in U Saak, en verlig ons harte met die glans van U kennis, en verlig ons borste met die helderheid van U name.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Toetse en Moeilikhede (#3210)

Lof sy aan U, o my God! Was dit nie vir die beproewinge at in U weg opgedoen word nie, hoe sou U ware liefhebbers herken word; en was dit nie vir die toetse wat ter wille van liefde vir U gedra word nie, hoe sou die stand van diegene wat U verlang blootgelê kon word? U mag getuig van my! Die metgeselle van almal wat U vereer is die trane wat hulle stort, en die troosters van dié wat U soek is die kreune wat hulle uiter, en die voedsel van diegene wat haas maak om U te ontmoet is die brokstukke van hulle gebroke harte.

Hoe soet vir my smaak is die bitterheid van die dood wat in U weg gely word, en hoe kosbaar, myns insiens, is die pyle van U vyande wanneer dit ter wille van die verheerliking van U woord raakgeloop word! Laat my vir U Saak drink, o my God, wat U ook al begeer het, en laat daal op my in U liefde, alles wat U beskik het. By U heerlikheid! Ek wil net wat U wil, en begeer wat U begeer. Ek het te alle tye my algehele vertroue in U geplaas.

Ek smeek U, o my God, wek op as helpers vir hierdie Openbaring, dié wat U naam en U oppermag waardig gereken sal word, sodat hulle my onder U skepsels mag gedenk, en die vaandels van U oorwinning in U land omhoog mag hys.

Sterk is U om te doen wat U behaag. Daar is geen God behalwe U nie, die Hulp in Gevaar, die Selfbestaande.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Toetse en Moeilikhede (#3211)

Verheerlik word U, o Here my God! Elke mens van insig bely U oppermag en U heerskappy, en elke oordeelkundige oog gewaar die grootheid van U majesteit en die gebiedende sterkte van U mag. Die toetswinde is magteloos om diegene wat nabye toegang tot U geniet terug te hou daarvan om hulle gesigte na die horison van U heerlikheid te rig, en die stormwinde van beproewinge moet faal om diegene wat geheel aan U wil toegewy is, weg te trek en te verhinder om U voorhof te nader.

Dit lyk my dat die lamp van U liefde in hulle harte brand, en die lig van U teerheid binne-in hulle boesems aangesteek is. Teenspoede is nie in staat om hulle te vervreem van U Saak nie, en die wisselvallighede van die geluk kan hulle nooit van U behae laat afdwaal nie.

Ek smeek U, o my God, by hulle en by die sugte wat hulle harte in hulle afskeiding van U slaak, om hulle veilig te bewaar teen die onheil van U teenstanders, en hulle siele te voed met wat U vir U bemindes beskik het oor wie geen vrees sal kom nie en wat nie tot leed te gebring sal word nie.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Toetse en Moeilikhede (#3212)

Is daar enige Verwyderaar van moeilikhede buiten God? Sê: Geloof sy God! Hy is God! Almal is Sy dienaars en almal berus in Sy gebod.

-The Báb
-----------------------

Toetse en Moeilikhede (#3213)

Sê: God is voldoende vir alles bo alles, en niks in die hemele of op aarde maar God is voldoende nie. Voorwaar, Hy is in Homself, die Kenner, die Onderhouer, die Almagtige.

-The Báb
-----------------------

Toetse en Moeilikhede (#3214)

Hy is die Medelydende, die Goedertierendste!

O God, my God! U sien my, U ken my; U is my Skuilplek en my Toevlug. Geeneen het ek gesoek, en geeneen sal ek soek behalwe U nie; geen weg het ek bewandel, of sak ek bewandel behalwe die weg van U liefde nie. In die donker nag van wanhoop draai my oog vol verwagting en hoop na die môre van U grenslose guns en by die aanbreek van die dag word my kwynende siel verkwik en versterk deur aandenking aan U prag en volmaaktheid. Hy wat deur die genade van U barmhartigheid gehelp word, al is hy net 'n druppel, sal die grenslose see word, al is hy net 'n druppel, sal die grenslose see word, en die geringste atoom wat gehelp word deur die uitstorting van U vriendelike goedheid sal skyn soos doe stralende ster.

Beskut onder U beskerming, o U Gees van suiwerheid, U die Algoeie Versorger, hierdie bekoorde, ontvlamde dienaar van U. Help hom in hierdie wêreld van bestaan om standvastig en onwrikbaar te bly in U liefde, en gee dat hierdie voël met gebroke vlerke 'n toevlug en skuilplek in U goddelike nes bereik wat op die hemelse boom bly.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Toetse en Moeilikhede (#3215)

O Here, my God en my Hawe in my nood! My Skild en my Skuilplek in my smarte! My Heenkome en my Toevlug in tyd van behoefte en in my eensaamheid my Metgesel! In my benoudheid my Troos, en in my verlatenheid 'n toegeneë Vriend! Die Verwyderaar van die kwellinge van my verdriet en die Vergewer van my sondes!

Ek wend my geheel na U, en smeek U inniglik met my gehele hart, my verstand en my tong, om my te beskerm teen alles wat teen U wil gaan in dit, die kringloop van U goddelike eenheid, en my skoon te maak van alle verontreiniging wat my sal verhinder om vlekloos en onbeklad die skaduwee van die boom van U genade to soek.

Ontferm U, o Here, oor die swakkes, maak die siekes gesond en les die brandende dors.

Verbly die boesem waarin die vuur van U liefde smeul en ontgloei dit met die vlam van U hemelse liefde en gees.

Beklee die tabernakels van goddelike eenheid met die gewaad van heiligheid en plaas die kroon van U guns op my hoof.

Verlig my gelaat met die glans van die sfeer van U mildheid en help my genadiglik in diens by U heilige drumpel.

Laat my hart oorvloei van liefde vir U skepsels en gee dat ek die teken van U genade mag word, die kenteken van U guns, die bevorderaar van eensgesindheid onder U bemindes, toegewy aan U, U in my woorde gedenk en die eie-ek vergeet, maar altyd gedagtig aan wat aan U behoort.

O God, my God! Hou nie die sagte winder van U vergifnis en genade weg van my nie, en beroof my nie van die fonteine va U hulp en guns nie.

Laat my onder die skaduwee van U beskermende vleuels nestel, en werp die blik van U alles-beskermende oog op my.

Maak my tong los om U naam onder U mense te loof, sodat my stem in groot vergaderings verhef mag word en die vloed van U lof van my lippe af mag stroom.

U is, in alle waarheid, die Genadige, die Verheerlikte, die Magtige, die Alvermoënde.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Toetse en Moeilikhede (#3216)

O my Here, my Beminde, my Begeerte! Betoon vriendskap aan my in my eensaamheid en vergesel my in my ballingskap. Verwyder my verdriet. Laat my aan U prag toegewy wees. Onttrek my aan alles behalwe U. Trek my aan deur middel van U geure van heiligheid. Maak dat ek in U koninkryk met diegene verbonde is wat van alles behalwe U afgesonder is, wat verlang om U heilige drumpel te dien en wat te werke staan in U Saak. Stel my in staat om een van U diensmaagde te wees wat U welbehae bereik het. Voorwaar, U is die Genadige, die Milddadige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

